WHITE KNIGHTS WORLD WIDE

WHITE KNIGHTS WORLD WIDE

Sunday 16 March 2014

Pa veg tot die dood vir gesin

Wyle Das (Derek) Venter (45).
PRETORIA. – Voordat ’n pa van Cullinan weens vier rowerkoeëls gesterf het, het hy eers sy vasgebinde vrou se voete losgemaak.
Das (Derek) Venter (45), ’n ingenieur van Aurecon in Pretoria, het tot die dood toe geveg om sy vrou en drie kinders teen vier gewapende aanvallers te beskerm.
Twee vuurwapens is gebruik om Venter een keer in die keel en drie keer in die bolyf te skiet.
Die Venter-gesin is die nuutste slagoffers van ’n vlaag rooftogte op kleinhoewes en lodges in die Cullinan-omgewing.
Die plaaslike gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) vermoed dieselfde rowers wat ’n bejaarde paartjie twee dae vantevore in die omgewing aangeval het, het in die vroeë oggendure gister op die gesin toegeslaan.
Johannes Jaftha, polisiewoordvoerder, het gesê Venter het glo die oggend geluide op die onderste verdieping van hul huis op die Welgedacht-hoewes gehoor. Toe hy onder kom, het hy gesien dat die skuifdeur oopstaan.
“Hy het een booswig deur die venster gesien en die ander drie het deur die skuifdeur ingestorm.”
Hulle het hom daarna oorrompel. Venter, wat in sy jonger dae ’n stoeier was, het die een probeer afweer en hy is geskiet – vermoedelik met dieselfde pistool en rewolwer wat hulle in die vorige rooftog gebuit het.
Natie Verwey, ’n familielid, het vertel dat die aanvallers Venter se drie kinders (3, 7 en 10) in ’n kamer toegesluit het.
Hulle het saam met Venter se vrou, Annari, die huis deursoek en onder meer juweliersware en selfone gebuit. Hulle het van die gesin se besittings in twee van die gesin se voertuie gelaai.
“Hulle het haar gevra vir geld, maar sy net R200 by haar gehad,” het Verwey gesê.
“Die booswigte het kwaad geword en haar geslaan. Hulle het ook gedreig om haar te verkrag.”
André van Heerden, ’n buurman en streekhoof van die Cullinan-GPF, het intussen skote gehoor en na Venter se foon gebel. Hy het toe met sy vuurwapen in sy motor geklim en na die huis gery.
“Toe ek by sy huis kom, het ek hom (Venter) ’n paar keer geroep,” het Van Heerden gesê.
Die booswigte, wat met Van Heerden se aankoms agter die huishulp se kamer agter die huis gaan skuil het, het weggehardloop toe hy die huis nader. Hulle het met net die selfone en geld weggekom en die res van die buit in die motors agtergelaat. Die sterwende Venter was toe besig om sy vrou se voete los te maak. Hy is kort daarna dood.
Die gesin het Desember in dié huis ingetrek.
Venter se pa, Jan, was baie ontsteld en het gesê sy seun was baie hardwerkend. Hy was die oudste van drie.
“Hy was baie bekend in die ingenieursgemeenskap.”
Annari en die drie kinders bly nou in Centurion by familie. Sy was te geskok om met Volksblad te praat.
Die familie wou nie die kinders se name verstrek nie om hulle te beskerm.

No comments:

Post a Comment